Media

  • Mar 1, 2018
  • News

Mosselbaai - Coffee Snobs se tuiste!


Vernette en Marius Wessels oftewel Coffee Snobs woon nou op Mosselbaai. Die groep het vandeesweek hulle jongste album, Lig op RSG bekendgestel.

MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers het letterlik 'n voorsmakie gekry van die duo Coffee Snobs se strelende musiek tydens die Dias- en Hawefees. 

Die groep het ook vandeesweek hulle jongste album, Lig op RSG bekend gestel en die selfs beter nuus is dat die Wesselse nou trotse Mosselbaaiers is.

"Ons is alreeds so lief vir Mosselbaai, ons het amper nie lus om êrens anders heen te gaan nie," vertel Vernette en Marius verlede week voor hulle op 'n twee weke lange toer om die album bekend te stel, vertrek het. 

Hulle som op dat hulle in Mosselbaai, nog net vriendelikheid ervaar het.

Die egpaar en hulle tweejarige seuntjie het einde 2017 in Mosselbaai hervestig uit Groblersdal, Limpopo.

'n Geloofstap
Hoe het hulle op Mosselbaai besluit? Marius meen hulle het 'n geruime tyd reeds die begeerte na 'n skuif gehad en daarvan 'n gebedsaak gemaak. 

Tydens hulle Kaapse toer verlede jaar het hulle slegs een aand in Mosselbaai spandeer. 

"Die weer was nog sleg ook," onthou Vernette. Maar toe hulle na die tyd gesels oor watter plekke hulle van gehou het, was Mosselbaai die wenner. 

Na 'n naweek van huise kyk, het die twee 'n geloofstap geneem, hulle huis in die mark gesit wat blitsig verkoop het, en hier is hulle nou.

"Ons wou 'n kwaliteitlewe lei en is mal oor die buitelug. Ons beide leer nou surf en dis great," sê Vernette. 

Súlke ingesetenes is hulle reeds op Mosselbaai, dat Ford Mosselbaai vir hulle 'n bussie geborg het waarmee toere nou heelwat gemakliker aangepak sal kan word.

Nuwe album
Coffee Snobs se nuwe album is op Woensdag, 28 Februarie in die RSG-ateljee om 14:00 bekend gestel. 

Vernette sê dis eintlik wonderlik hoe alles uitgewerk het. "Die album was eintlik verlede jaar al gereed. Toe ons egter hoor RSG is bereid om die bekendstelling te behartig, was dit 'n wonderike geleentheid."

Onderweg na Johannesburg, het die duo ook op verskeie plekke opgetree as deel van 'n bekendstellingstoer.

Lig bevat nege oorspronklike liedjies, waarvan sewe in Afrikaans en twee in Engels is. 

"Dis 'n baie positiewe album. Die tema van lig duik oral in lirieke op. Dis 'n lekkerluister musiek," som Vernette op.

"Daar is spore van persoonlike uitdagings op die album. Baie keer as 'n mens deur dips in die lewe gaan, stimuleer dit jou kreatiwiteit. 

"Daaruit kom dikwels mooi en goeie dinge," sê Marius. Hy meen dat elkeen 'n storie het en dat ons juis daarom ons masker moet afhaal, want "jou storie kan iemand juis inspireer".

 

'n Goeie span
Marius het sy korporatiewe lewe agtergelaat om voltyds saam met sy vrou musiek te maak. 

"'n Mens se werk sorg vir jou, maar dikwels is dit nie waarvoor jy gemaak is nie." Tans wend Marius sy ervaring aan om die groep se sake professioneel te bestuur. 

"Ons maak 'n goeie span," meen Vernette. As die meer kunssinnige van die twee, doen sy meeste van die skryfwerk. Van haar liedjies is al deur Laurika Rauch opgeneem.

"Ek dink mense is soms teleurgesteld as hulle ons ontmoet. Ons is eintlik baie plat op die aarde," lag Vernette.

En die naam?
Ja, hulle hou van goeie koffie, veral na 'n braai. Die groep het 'n naam nodig gehad en juis in daardie tyd is hulle na 'n braai genooi. 

Toe die koffie aangebied word, vra Vernette glo aldus Marius, "watse koffie?". Toe sy die kitskoffie aangebied van die hand wys, is daar grappenderwys na die paartjie as "koffiesnobs" verwys.

En net daar, besluit hulle dit kan net sowel die groep se naam wees - Coffee Snobs.

Photo: nuus.JPG
Next article Previous article