Media

  • May 10, 2018
  • News

Huisgenoot kuier by die Snobs!


Die getroude die se tweede album Lig is nou op die rakke - en meer akoesties en organies as hul debuut van 2016!
Jaco Hough-Coetzee

Dit is vars geroosterde musiek van die Coffee Snobs

 

Die duo-groep Coffee Snobs se tweede album, Lig, is hierdie week eksklusief op RSG bekend gestel. Huisgenoot het met die lede van die groep, die egpaar Vernette en Marius Wessels van Mosselbaai, gesels.

 

Anders as hul 2016-debuut, Aroma, is LIG meer akoesties en organies, vertel Vernette en Marius wat in 2009 getroud is waarna hul die groep, die Coffee Snobs, in 2013 gestig het.

“Die titel van die album weerspieël die tema van lig wat deurlopend in die lirieke voorkom,” verduidelik Vernette, die hoofsanger en liedjieskrywer van die duo.

Sy sê haar lirieke was nog altyd eintlik storievertellings. “Dit gaan oor dinge wat met ons en met ander mense gebeur. Die liedjies word dus geïnspireer deur tye van donker en lig, trane en lag, die wind, die see en die stilte.”

“Ons almal het mos ‘n storie, ‘n lewensverhaal met goeie en slegte goed wat met jou gebeur het,” sê Marius, die agtergrondstem en baskitaarspeler.

Soos die keer toe hy in 2011 met kolonkanker gediagnoseer is. Hy het intussen heeltemal genees, maar daardie tyd het wel emosionele letsels op die twee pasgetroudes gelaat. Uit hierdie ervaring het Vernette die liedjie Noudat die lig op jou skyn, geskryf wat die openingsnit op die nuwe album is.

Wanneer ‘n mens deur moeilike omstandighede gaan en heel aan die ander kant uitkom, moet jy dit met ander deel, glo sy. “Op die manier kan jou omstandighede weer iets positiefs vir iemand anders beteken.”

Vernette sê wanneer sy lirieke skryf, is die woorde altyd relevant tot iets in haar lewe op daardie spesifieke stadium. Die wysie kom gewoonlik eerste waarna sy woorde skryf wat by die emosie van die melodie pas. “Dit is egter vir ons belangrik dat die lirieke betekenisvol is.”

Onder andere het sy die liedjies Draai Terug en Bloed is dikker as water, spesiaal vir die 2015-fliek, ‘n Man soos my pa, geskryf wat die Coffee Snobs ook op die klankbaan gesing het.

Vir Laurika Rauch skryf sy die titelsnit van Laurika se 2016-album, Die reis, asook die liedjie Bly nog so ‘n bietjie wat op haar Wals, Wals Willemien-album in 2014 ingesluit is.

Omdat haar liedjies so persoonlik is, sal sy dit nie sommer vir enigiemand gee nie, vertel Vernette. “Maar met Laurika kan ‘n mens dit met vrymoedigheid doen want ‘n mens kan haar vertolkings vertrou.”

Toe hulle destyds ‘n naam vir hul groep moes kies, het die naam Coffee Snobs eintlik so half en half spontaan gebeur, vertel Marius.

“Kyk, ons hou van koffie, veral na ‘n braai, maar dit moet ‘n góéie koffie wees. Wanneer ons koffie aangebied word, sal Vernette altyd eers vra watter tipe koffie dit is. So het ons die spotnaam “die koffie-snobs” onder vriende gekry!”

En vat die twee musikante, wat ook die ouers is van die tweejarige Matthias, ooit hul werk “huis toe”?

Ja, lag die twee saam. Want as musiek jou passie is, kan jy nie juis anders nie . . . .

Photo: 1005_Vermaak_Musiek_Read-Only_copy.jpg
Next article Previous article